Rael du Plessis: Fabel-R stoet

Deur Ampie Vermaak.

  • Mens is nooit te jonk, onervare of het te min geld, om jou droom te leef nie.
  • Werk elke dag aan goeie verhoudings en wees bly, saam met ander, oor hulle sukses.
  • Fokus op die doelwit, en volg die tendense van die mark.
  • Moenie poog om die mark te verander nie, maar selekteer ‘n bees, om by die vereistes van die mark aan te pas.
  • Alvorens ‘n stoet teler volhoubaar kan boer, moet die kliënt wat beeste by die stoet teler aangekoop het, meer wins maak.

 

Agtergrond

Ongeveer 50 km vanaf die OR Thambo Lughawe, boer ‘n jong rooikop boeremeisie, op haar plaas Belview Estates, met Santa Gertrudis beeste. Rael du Plessis (14) is sedert 2014 ‘n Santa Gertrudis en  Appaloosa perde teler. (Rael se naam is afgelei van die woord Israel)

Die gesin woon in Nigel dorp, en haar daaglikse hoogtepunt, is die besoek aan die plaas. Sy word groot, in ‘n sterk onderwys en diereteelt mileu. Pa (Francois) is ‘n voormalige Skoolhoof.

Francois was vir 40 jaar ‘n stoet teler en het verskeie Skou kampioene geteel en is ook ‘n beoordelaar van verskeie rasse. Ma (Belinda) volg ‘n uiters suksesvolle loopbaan in die onderwys. Belinda is veral bekend, vir haar werk onder leerlinge wat, dwelm verslawing, dissiplinêre, emosionele en gedrags uitdagings ervaar. Belinda is die afgelope 42 jaar, ‘n uitstekende perde ruiter. Sy het 18 jaar gelede tot perde stoetteling toegetree.

Rael se broer (Christiaan en sy vrou), woon in Kanada, waar hy in die Ingenieurs bedryf en sy vrou in die Onderwys betrokke is.

Boerdery

Rael is trots om ‘n boer te wees en hierdie passie met volle oorgawe uit te leef. Met geleenthede wanneer sy met privaat klere skool mag bywoon, is dit vanselfsprekend dat sy met trots haar Santa klere dra. Vir haar is boerdery nie net ‘n belangstelling nie, maar ‘n leefwyse. Rael word toegelaat om haar eie bestuurs en finansiële besluite te neem.

Die keuse: Santa Gertrudis.

Die keuse van ‘n beesras, was ‘n besluit wat met pen en papier gedoen is. Die vertrekpunt was om beesrasse te identifiseer waarvan sy hou, en waarvoor daar ‘n mark in die onmiddellike omgewing bestaan. Die  voor- en nadele van elke ras, is neergeskryf, en die besluit was dan, reeds verantwoordbaar op papier duidelik.

Rael het vir haar ‘n enkele teeldoelwit opgestel, en die Santa Gertrudis was “handgemaak” vir hierdie teeldoelwit. Die teeldoelwit het ingepas by die vereistes van die mark (Bees boere en Voerkrale). Benewens die eienskappe van die ras, het die feit dat sy baie van die Santa Gertrudis ras hou ook ‘n rol gespeel.

Teeldoelwit

Die enigste doelwit is:

Nadat ‘n kliënt diere by die stoetteler aangekoop het, moet die koper meer wins maak, met die diere of die nageslag van die diere. Om hierdie doelwit te bereik, is meetbare maatstawwe gekies.

Die maatstawwe is:

  1. Vrugbaarheid

Rael beskou vrugbaarheid as die belangrikste eienskap van vee boerdery. Vir haar is dit belangrik dat elke vroulike dier, ‘n bydra moet maak om die boerdery winsgewend te hou. Sy plaas ekstra druk op haar koeie se vrugbaarheid. Genetiese vordering word versnel deur korter kalf intervalle. Met ‘n beskeie glimlag erken sy: “Ek is baie opgewonde as daar ‘n nuwe kalf gebore word. As my koeie gereeld kalf, is ek gereeld opgewonde en bly”.

Haar blydskap, oor nuwe kalwers, is reeds genoeg rede om vrugbaarheid na te jaag. Vir Rael is die ideale TKP 365 dae, maar beslis nie meer as 395 dae nie.

  1. Speen massa

‘n Bo gemiddelde speenmassa word gehandhaaf. Die kommersiële beesboer verkoop hoofsaaklik speenkalwers. ‘n Toename in is sy speenkalf massa is vir hom ekstra wins. As die kommersiële boer meer wins maak, sal hy weer ‘n Santa bul koop. Haar persoonlike hoogtepunt was toe sy, ‘n kalf op 200 dae kon speen, met ‘n massa van 433 kg wat beperkte kruipvoer ontvang het (Geboorte massa 38 kg).

  1. Temperament

‘n Rustige temperament is belangrik, omdat die kopers nie wil sukkel met wilde diere nie. Sy beklemtoon die belangrikheid, dat koeie hul kalwers moet beskerm teen roofdiere

  1. Voeromset

Die goeie voeromset verhouding van die Santa ras, het haar beïndruk. Voer is duur en ‘n gunstige voeromset is ‘n aantrekkingskrag vir voerkrale.

  1. Aanpasbaarheid

Die dier moet aanpas in die omgewing, en die omgewing en voeding moet nie aanpas by die beesras nie.

As jong teler kan sy nie duur voer bekostig nie, en moet die diere aangepas wees, in die omgewing. Volgens haar moet ‘n boer met groot voerkostes, seker maak of sy diere werklik aangepas is in die omgewing. Deur toenemend diere te voer, beteken dat die omgewing gemanipuleer word, om by die diere aan te pas.

Nog ‘n wyse wat sy gebruik om aanpassing te meet, is om bosluis tellings te doen. Dit was opvallend dat sekere genetiese lyne meer vatbaar is vir hoë bosluis ladings en ook bosluis oordraagbare siektes. Hierdie is ‘n uitstekende meetbare maatstaf om aanpasbaarheid en gehardheid te bepaal.

Toekoms visie

Die jong meisie se toekoms visie, strek verder as haar eie kudde. Sy het die visie, om die goeie eienskappe van die Santa Gertrudis te gebruik, om die ras se voetspoor verder in Suid Afrika en veral Afrika te vergroot.

Dit is nie genoeg dat ‘n telers, net ‘n goeie teler is nie, want die teler moet ook ‘n goeie bemarker wees. Die Santa Gertrudis kantoor kan nie alleen verantwoordelikheid neem om die ras te bemark nie. Die verantwoordelikheid van ras bemarking, is elke teler se persoonlike verantwoordelikheid.

Rael is van mening, dat die toekoms van die Santas, in die klein handjies van die jeug lê. Hierdie is ‘n groot verantwoordelikheid, wat swaar op die jeug rus. Hulle toekomstige besluite kan die voorspoed of vernietiging van die ras bepaal. Die jeug het egter, die voorreg, om op ‘n stewige en gevestigde basis voort te bou, wat reeds in die Santas gevestig is.

Die Suid Afrikaanse Santa Gertrudis beskik oor die eienskappe soos, bo gemiddelde speen massa, goeie voeromset, aanpasbaarheid en donker rooi kleur. Ons moet hierdie eienskappe gebruik, om te droom oor ‘n nog groter toekoms. As ons drome nie onwerklik klink, of ons nie bang maak nie, is ons drome te klein.

Balans in die lewe.

Vir haar is balans in die lewe uiters belangrik.

Perdry is een van haar aktiwiteite. Rael was by 3 geleenthede deel van die Nasionale perdry span. Sy neem deel aan die dissiplines, “Show jumping, Stadion eventing, Three phase eventing en Western Mounted Games”

Ruiterkuns het vir haar baie belangrike lesse vir die lewe geleer. Deursettingsvermoë, geduld, die hantering van teleurstellings en om altyd nederig op ‘n perd se rug te wees, is enkele van die lewens lesse.

Om ruiterkuns, tydens kompetisies te geniet, moet die ruiter, nie ander deelnemers raak sien nie. Sy fokus net op haarself en haar perd en geniet die dag. Die doel van haar deelname is om ‘n beter “Ek” te wees.

Om die Kampioen van die dag te wees, beteken dat jy net vir daardie oomblik die Kampioen is. Die volgende dag moet weer nederig wees, en van vooraf begin werk.  Kampioenskappe kom nie met ‘n ewigdurende “etiket” nie.

Drama, kuns, klavier, viool, koor is van die enkele aktiwiteite wat sy gebruik om ‘n gebalanseerde lewe te voer. Die waarde van die somtotaal van die aktiwiteite, is groter as die waarde van die aktiwiteite afsonderlik.

Verhoudings in die bedryf

 

Gesonde opbouende verhoudings, is vir Rael baie belangrik. Sy onthou, dat haar Pa al vertel het, van die effek van verhoudings, tussen telers van ‘n ras. Hy noem altyd vir haar die voorbeelde van rasse wat vernietig is deur swak verhoudings.

Rael borrel van vreugde as sy begin vertel van haar ervarings met Tannie Susan by die kantoor en mede Santa telers. Einde verlede jaar het sy groot skade gelei, a.g.v. die diefstal van haar stoet beeste. Sy was in trane en moedeloos.

Tannie Susan het verneem van Rael se skade en dadelik die vrymoedigheid geneem om Santa telers te skakel. Sy het hulle gevra of hulle bereid sal wees, om verse aan Rael te skenk. Willie de Jager, Desmond Robertson, Koos Lock, Juan Freeman en Carel Allandale het verse geskenk. Willie de Jager het aan haar, ‘n uitsonderlike goeie bul met baie goeie bloedlyne en teelwaardes geleen en daar was telers wat  vir haar semen, van Santa bulle geskenk het.

Rael staar voor haar uit. Sy bly vir ‘n paar oomblikke stil, dit is asof sy na woorde soek. Dan begin sy met ‘n sagte stem praat, terwyl sy gereeld stil bly om diep asem te haal. “Hoe kan ek ooit genoeg dankie sê aan Tannie Susan en hierdie Santa Gertrudis telers, wat vir my verse gegee het?” Sy praat verder: ” Oom weet oom, dat ek en my gesin nie antwoorde het, hoe om genoeg dankie te sê nie. Ons is magteloos van dankbaarheid”. Haar emosies wissel van uitbundige blydskap tot om hartseer te wees van dankbaarheid”.

Met haar sagte oë wat tot in my wese kyk, sê sy: ” Oom dit is regtig waar, dat dit soms makliker is om te gee, as om te ontvang. Die dankie sê, en die vrees om nie teleur te stel nie, nadat ek ontvang het, is die probleem.”

Toekoms planne

Rael besef dat sy nie teen groot kuddes, wat oor dekades opgebou is, in die skouring kan meeding nie. Sy vertel verder: “Ek het besluit om die beste Santa Gertrudis beeste te teel, waartoe ek in staat is.

Hierdie rooi beeste, is my trots, my passie, my liefde. As ek na hulle kyk, praat hulle met my hart en ek geniet elke oomblik saam met hulle. As ek by my beeste is, is elke dag vir my skou tyd. Gereeld is daar boere wat vir my sê, dat my beeste elke jaar die beste lyk, in ons omgewing. Oom dan weet ek mos ek het geskou en ‘n Kampioen geteel”.

Akademie en skoolwerk is vir Rael uiters belangrik. Wiskunde en Natuur Wetenskap is haar gunsteling vakke. Rael het die begeerte om vir ‘n Sielkundige te gaan studeer, en beoog om diere (beslis perde en sekere mak Santa Gertrudis beeste) in haar terapie te gebruik. Met oë wat glinster sê sy : “Ek gaan die eerste en enigste teler wees, wat Santa Gertrudis beeste gaan gebruik, om stukkende mense, weer heel maak”.

Slotsom

Terwyl ek by Belview Estates se hek uitry, herhaal ons gesprek homself self, oor en oor in my gedagtes. ‘n Buitengewone kind met buitengewone gawes. ‘n Meisie met outydse Afrikaner waardes en respek. Sy is stil, skaam, beskeie, teruggetrokke, en dankbaar.

Op ‘n stadium het dit gevoel, of haar vaste kyk in my oë, en beskeie stemtoon, tot diep in my hart praat. Ek kyk af na die sitplek langs my en sien ‘n tarentaal veer. Dit is byna of ek nog haar stem kan hoor, toe sy vir my die veer gee: “Oom die tarentaal het seker geweet Oom kom kuier.

Toe het hy hierdie veer, as boodskap van voorspoed, vreugde, vrede en seën vir Oom hier agter gelaat.”

‘n Rooikop kind, wat weet wat sy in die lewe wil hê, maar nooit oor mense loop om haar sukses te bereik nie. ‘n Kind wat sonder twyfel ‘n sukses van haar Santa Gertrudis stoet gaan maak.

Ek onthou haar ferm handdruk en stil persoonlikheid en besef, dat daar geweldige krag in haar “Stilte” opgesluit is.

Share on facebook
Share on twitter
Share on linkedin

10 Responses

  1. Wat n inspirerende storie.
    Baie dankie, dit gee my sommer hoop vir ons land as daar sulke jong mense is wat so passievol is.

  2. Wow! Rael se storie het my diep getref, veral omdat ek haar persoonlik ken en elke liewe woord kan staaf. Sy is voorwaar enig in haar soort en so ‘n inspirasie vir oud en jonk. Doen so voort pragkind!

  3. Amazing! So bly daar is nog meisies wat kan sê ek is n boer en nie skaam daaroor nie!! Dit is so fantasties goed om so iets te kan lees en te weet my dogters kan die voorbeeld volg. Trots op jou! Dankie vir die goeie voorbeeld wat jy stel vir die meisies en sit die seuns ore aan! 🌻👌

  4. WOW dit wil gedoen word. So trots op jou jong dame wat wys hoe dit gedoen moet word. Alle suksess vir jou en jou gesin voorentoe. Well done.

  5. Daar is nie woorde wat die verhaal en die kind te kan beskryf nie.
    Dit sal ‘n fantastiese ervaring wees om haar te ontmoed.
    Soveel suksesse en nogsteeds, sonder afguns, bly beskeie, met respek vir mense .
    Hierdie moet ‘n Boere meisie in murg en been wees.

    Die wereld is so vol negatiewe nuus en gebeure – wonderlik om goeie, inspirerende nuus te lees. Mag haar voorspoed en seen Suid Afrika vul en ons land ‘n beter plek maak.
    Die meisiekind se “bek kort jam”.

    Rael, mag jy ‘n wonderlike toekoms he, en mag jou voorspoed ewig voort duur. Spesiale voorspoed met die Santa’s.
    Trots op meisies soos jy.

    (Verseker moet die Santa’s eendag haar toekomstige eggenoot , aan streng keuring onderwerp)

  6. Voorwaar ‘n voorbeeld en ‘n storie van hoop. Ons is besonders trots op jou en al jou prestasies. Mamma en pappa kan baie trots wees op so pragtige dogter soos jy. Wel gedaan!

    1. Pragtige jong boertjie met n mooi hart en mooi diere. Hou so aan, jy is verseker op die regte pad

  7. Rael ons is super trots op jou! Jy gaan nog baie hoogtepunte in die toekoms behaal en ons sien uit na wat vir jou voorlê. Baie liefde x

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *