Jaarlikse keuring van beeste in Limpopo streek

L na R_TIAAN BEKKER, JOHN SCHMIDT, DAVE ENGELS, JACO LUBBE, JAN BOSCH, LEON DE LANGE

 

Die Bosveld Santa Gertrudis Studiegroep het die naweek van 4 en 5 Junie 2021 die jaarlikse keuring van beeste in sy Limpopostreek afgehandel. Lede het reeds vanaf Donderdagaand die 3de begin saamtrek om vroeg die volgende dag te begin met ‘n druk program.

Vrydagoggend het die lede asook die rasbestuurder op die plaas van John Schmidt, naby Tuinplaas, saamgekom en na koffie is daar begin met die keuring. Die groep is in die bevoorregte posisie om drie keurders, Naude Pienaar, Leon de Lange en Jaap Mare, as lede te hê. Jaap Mare moes ongelukkig onttrek aan die verrigtinge omdat hy en sy gesin in selfisolasie moes gaan.

Die ander twee keurders het toe onder mekaar die taak verdeel om beurtelings die leiding te neem met die proses. Die stelsel wat gevolg word behels dat al die lede teenwoordig die dier wat aangebied word vir keuring bespreek. Die bespreking word gefasiliteer deur die keurder verantwoordelik en nadat die insette gelewer is word daar dan besluit of die dier goedgekeur of afgekeur word. Belangrik om te noem is dat die keurder wat voorstaan by die kuddekeuring steeds die laaste sê het betreffende die uitslag en daarom neem hy dan ook die verantwoordelikheid om die keuring af te teken. Nadat John se diere afgehandel is het hy ons na sy koeie toe geneem vir ‘n vinnige kuddebesigtiging. Die lede teenwoordig was dit eens dat die kwaliteit van sy kudde goed vergelyk met die bestes in die bedryf.

Vandaar het die lede na die Lusanta kudde van Jan Bosch anderkant Naboomspruit vertrek. Jan-hulle het benewens die SP verse ook ‘n klomp vroulike diere aangebied om in die hulpstamboek opgeneem te word. Die groep het ook die 2020 bulkalwers onder oë gehad en verskeie kalwers het die oog gevang.

Van Naboom af het die groep vertrek om die dag se keurings by die Tibra kudde af te sluit. Die kudde keur al om die ander jaar en daarom is die 2018 en 2019 verse aangebied asook ‘n paar bulle. Die jonger 2020 bulle sal oorstaan tot ‘n volgende geleentheid. Met die son wat lang skaduwees begin maak het die groep opbeweeg huistoe sodat daar teen 17:30 met ‘n studiegroep vergadering begin kon word.

Afgesien van die standaardpunte van enige vergadering probeer die bestuur die geleentheid so inrig dat ‘n interessante onderwerp wat betrekking op ons bedryf het behandel word. By die geleentheid het Naude ‘n baie goed voorbereide Powerpoint bespreking gelei wat gehandel het oor die geskiedenis van die ras met spesifieke verwysing na die bulle wat ‘n groot impak op die ras gemaak het. Telers wat nog nie lank in die bedryf is nie het die foto’s van die ouer bulle uit die jare ’90 baie leersaam gevind.

Lede was dit eens dat, geoordeel aan die foto’s en die hoeveelheid nageslag van die bulle, die tipe bulle vandag steeds ‘n rol te speel het in die bedryf. Met dit ingedagte het die gesprek na die rol van KI oorgegaan. Dis mos logies dat daardie bulle reeds jare dood is en dat hulle slegs nageslag kan verwek deur middel van KI. Die groep het toe besluit om, gesien in die lig van die bepalings van die Veeverbeteringswet, ‘n voorlegging aan die raad te maak sodat wettige maniere gevind kan word om die handel in semen beter te fasiliteer en te vergemaklik. Die ouer telers van die groep het terug verwys na tye toe telers van enige bul in die bedryf semen, sonder probleem, kon bekom en gebruik. Die aand is afgesluit met ‘n ete, waarna die telers wat nie op die perseel oorgeslaap het nie na hul huise vertrek het.

Die volgende oggend moes almal vroeg roer om 8 uur op Leon de Lange se plaas naby Alma te wees. Eers is daar aangesit vir ontbyt wat keurig voorberei is deur Leon se vrou Karen en sy dogter. Die bulle het eerste aan die beurt gekom en Leon het ‘n dik span goeie bulle aangebied vir keuring. Ons het ook die geleentheid gekry om vinnig na sy 2020 bulkalwers te kyk wat pas gespeen is. Vandaar het ons na sy ander plaas vertrek om die verse te gaan keur. Wat opvallend van die beeste op Alma was is dat hulle in ‘n baie harder omgewing moes gedy. Alma staan bekend vir die hoëveld van die bosveld met suurveld en ‘n winter wat baie vroeër begin as in die res van die Bosveld. Nieteenstaande is die Santas daar goed aangepas en presteer hulle goed.

Van Leon af het ons vertrek na die plaas van Dave Engels. Sy plaas is geleë naby ‘n klein dorpie met die naam Rankin’s Pass, aan die voet van die Kransberg Nasionale Park. Dave het nie baie diere gehad om te keur nie maar hy het aan ons sy 2020 speenverse gewys waarop hy baie trots kan wees. Nadat daar koeldrank gedrink is het die lede gegroet waarna almal na hul bestemmings vertrek het.

Twee dae se harde werk, lekker bees gesels en by tye brutaal eerlike bespreking het tot ‘n einde gekom. Ons as groep is steeds oortuig dat ons konsep en harde werk begin vrugte afwerp. Ons ledetal en beesgetalle groei, daar is ‘n ongekende vraag na bulle en die gees onder die lede is goed. Die wyse waarop lede deelgeneem het aan die besprekings, telers die kritiek op hul diere aanvaar en verwerk het en die bereidwilligheid om steeds by die konsep in te koop is alles bewyse dat ons op die regte pad is.

L na R_TIAAN BEKKER, JOHN SCHMIDT, DAVE ENGELS, JACO LUBBE, JAN BOSCH, LEON DE LANGE

Namens die bestuur ‘n word van dank aan Martin van Rooyen vir sy groot opoffering om die twee dae saam met ons mee te maak, vir sy deelname aan die vergadering, die gaste wat baie moeite gedoen het om saam met ons te wees, die lede van Wes Transvaal wat hul boerderye, in die tye agter te laat en die groot afstand af te lê om te kom saamwerk en die Limpopo telers vir hul gasvryheid en die diere wat gereed was vir keuring.

 

Deur: Voorsitter van Bosveld Santa Gertrudis Studiegroep – Tiaan Bekker

Share on facebook
Share on twitter
Share on linkedin

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *