DUBBELBESPIERING: WEES VERSIGTIG.

Dr Munro Marx: Unistel Geneeskundige Laboratoriums

 

WAT IS MYOSTATIN:

Myostatin gene word in alle soogdiere gevind en beinvloed die protein produksie wat verantwoordelik vir spierontwikkeling is. Natuurlike mutasies binne hierdie gene produseer proteine binne die spiere wat minder beheer oor spierproduksie uitoefen. Hierdie verminderde beheer lei tot ‘n toename in spiermassa.

 

VARIANTE BY UNISTEL GETOETS:

Variant F94L:

Variant F94L, waarna ook verwys word as ‘die profeitgeen’, toon ‘n hoër frekwensie in die Limousin en Aubrac rasse; baie van hierdie beeste het selfs twee mutante kopieë van die geen en is dus homosigoties vir F94L. Mutasies in die F94L geen veroorsaak ‘n toename in spiervesels. Dit word nie geassosieer met kalwingsprobleme, lae vrugbaarheid of langslewendheid nie. Diere met 2 kopieë van die F94L mutasie toon tot en met ‘n 20% toename in primêre snit gewig asook ‘n opbrengstoename van tot en met 8%. Die gehalte van die vleis is tipies ook beter met ‘n toename in sagtheid, ‘n afname in vet en ‘n hoër persentasie poli-onversadigde vette. Diere met 1 kopie van die mutasie en 1 kopie van die normale geen vertoon ook hierdie karaktertrekke, maar nie tot dieselfde graad nie.

Variant nt821:

Hierdie variant word deur ‘n kleiner persentasie van die populasie gedra. Variant nt821 is algemeen in die Belgian Blue en Parthenaise rasse, met ‘n laer frekwensie in die Limousin, Korthoring en Angus rasse. Diere wat 2 kopieë van die mutasie het sal die karaktertrekke van die mutasie vertoon. Hierdie diere het groter lendediepte, verminderde vetdiepte en ‘n groot, geronde kruis en bobene. Diere met 2 kopieë van die nt821 geen, het ‘n swaarder geboorte gewig wat dikwels tot kalwingsprobleme lei. Die fisiologie en toraks volume word ook nadelig beinvloed en dus sukkel diere mut ‘n dubbele nt281 mutasie in ekstensiewe toestande. Diere met 1 kopie van die mutasie en 1 kopie van die normale geen vertoon ook hierdie karaktertrekke, maar nie tot dieselfde graad nie. Draers van nt821 ervaar ook nie noodwendig kalwingsprobleme nie.

Variant Q204X:

Variant Q204X word oor die algemeen waargeneem in die Charolais ras. Hierdie mutasie word as gedeeltelik dominant gesien. Diere met 2 kopieë van die mutasie sal karaktertrekke soos groter lendediepte, verminderde vet en sagter vleis vertoon. Hierdie diere het egter ook die risiko van swaarder geboorte gewig en laer melkproduksie. Diere met 1 kopie van die mutasie en 1 kopie van die normale geen (draers) vertoon ook hierdie karaktertrekke, maar nie tot dieselfde graad nie. Draers van Q204X sal ook nie kalwingsprobleme of verlaagde melkproduksie ervaar nie.

WAT IS DIE VOORDELE VAN MYOSTATIN?

Die aanwesigheid van die Myostatin mutasie lei tot die volgende verbeterde karkaseienskappe:

Vleisopbrengs: Die karkas dooiegewig van dubbelbespiering diere kan tussen 65 – 70% vergroot word weens ‘n kombinasie van ‘n toename in spiermassa, verminderde liggaamsvet, verminderde beenmassa en kleiner organe. Beeste met die myostatin mutasie kan ‘n toename in spiermassa van tot 20% toon. Myostatinmutasie draende diere het ook beter voerdoeltreffendheid  omdat hulle ‘n groter toename in spiermassa per eenheid energie lewer in vergelyking met nie-myostatinmutasie draende diere.

Vleisgehalte: Die vleis van myostatinmutasie draende diere is dikwels van ‘n beter gehalte omdat die vleis ‘n toename in sagtheid, ‘n afname in vetinhoud en ‘n groter persentasie poli-onversadigde vette bevat.

Hoekom dit van belang is vir produseerders : Myostatinmutasie draende diere produseer ‘n groter porsie van gewensde verminderde vet vleissnitte.  Die meerderheid van draers van die F94L mutasie vertoon hierdie gewensde karaktertrekke sonder enige van die nadelige newe-effekte op geboorte gewig, kalwingsprobleme, vrugbaarheid, langslewendheid of melkproduksie.

Hoekom dit van belang is vir verbruikers : Die vleis is sagter, bevat minder vet asook ‘n hoër poli-onversadigde vet inhoud as nie-myostatinmutasie draende diere en is dus ‘n gesonder opsie volgens die huidige voedingsriglyne.

WAT IS DIE NADELE VAN MYOSTATIN MUTASIES?

Bene: As gevolg van die vermindering in beenmassa (weens ‘n verhoogte spier tot been ratio), kan diere verswakte bene hê, wat kan lei tot bros bene en beskadiging van die hakke.

Fisiologie: Diere is meer geneig om moegheid te ontwikkel (oefeningstres) weens verminderde longkapasiteit (kleiner organe). Diere is ook minder weerstandig teen hittestres (weens verlaagde vlakke van tiroksien) en is meer vatbaar om voedingsstres (weens verminderde vetreserwes) en respiratoriese siektes te ontwikkel. Beeste met die mutasie kan ook ‘n vergrootte tong hê wat soog kan bemoeilik.

Reproduksie kwale: Probleme wat kan ontstaan sluit in: vertraging in puberteit, verminderde vrugbaarheid (weens die verlies aan embrio’s), langer swangerskappe, verhoogde kans op distokia (verandering in die bekkendimensies), verminderde melkproduksie, toename in kalfsterftes, onderontwikkelde manlike en vroulike geslagsorgane.

OPSOMMEND.

Dubbelbespiering het sekere ekonomiese voordele wat vleisgehalte en karkas opbrengs betref. Daar is egter ook besliste ander nadele soos kalfprobleme en fisiologiese nadele, veral in ekstensiewe toestande. Draers van die verskillende myostatin mutasies word nie tot dieselfde graad aangetas nie, maar daar moet oordeelkundig met seleksie en parings omgegaan word. Kruising met draer diere moet verkieslik as terminale kruise gebruik word en die nageslag moet verkieslik almal as slagdiere beskou word.

Share on facebook
Share on twitter
Share on linkedin

3,056 Responses