Met die winter skielik op ons, weet ons dat al die opwindende Santaveilings om die draai is. Sterkte aan elke verkoper wat nou besig is om diere voor te berei.

Die afgelope Vrydag het die Raad en kantoorbestuur ‘n 6-uur lange marathon-vergadering gehad. Van die besluite wat ons geneem het, is dat ons die jaar gaan fokus op goeie samewerking en positiwiteit tussen ons as telers en om klem te lê op die bemarking en goeie ras-eienskappe van die Santa. Ons beoog om kommersiële kopers die teikenmark te maak, om sodoende ‘n groter markaandeel vir die Santa-ras te bewerkstellig.

Kom ons ondersteun die jaar 2021 al die veilings, boeredae, slagoskompetisies, ens. met ‘n positiewe energie en uitkyk. Ons fokus moet wees op kwaliteit, meting en genetiese vordering om op internasionale vlak te bly meeding. Wêreldwyd is daar tans baie navraag vir Suid-Afrikaanse genetika, in die vorm van embrio’s of goeie bulsemen. 

U as teler of ondersteuner van die Santa-ras is ook baie welkom om in ons maandelikse nuusbrief te adverteer of net mooi foto’s aan te stuur. Enige insette sal baie waardeer word. Praatgerus met Martin (Rasbestuurder) of Susan by die Kantoor.

Kom ons bou die Santa-ras tesame.

Groete
Desmond Robertson